Jaco Burger Fondswerwings Projek

logo
Ondersteun Jaco Burger vir die kritiese operasie.
Roelof Jacobus Burger (Jaco) is gebore op 18 Maart 2002 te Medi-Clinic Welkom. Direk na geboorte is Jaco gehaas na die Neo-natale Intensiewe sorg-eenheid waar hy na 16 dae ontslaan is. Hy was ’n liefdevolle baba wat omtrent nooit gehuil het nie. In 2003 het Jaco sy eerste konvulsie gekry. Sy ouers het met hom hospitaal toe gejaag. Daar is hy deur ’n pediater ondersoek wat gesê het dat daar niks fout is nie, en dat dit nie weer sal gebeur nie. Twee weke later het presies dieselfde gebeur en is sy ouers weer met hom hospitaal toe, waar hulle weereens ingelig is dat daar geen afwyking op die CT-skandering is nie. Mev. Burger was nie tevrede hiermee nie, en het toe met ’n verwysing deur ’n vriendin by ’n pediater in Bloemfontein uitgekom. Hy het hulle ingewag by die hospitaal, Jaco dadelik opgeneem en toetse gedoen. Hy het duidelik op die CT-skandering gesien dat Jaco breinskade opgedoen het as gevolg van ’n mooontlike te groot dosis suurstof wat toegedien is. Hy het dadelik begin met medikasie vir epilepsie, en daar is vermoed dat Jaco ’n waterhofie kan wees. Vir 9 maande lank het Jaco arbeidsterapie en spraakterapie ontvang aangesien hy agter was met al sy mylpale. In April 2006 het hy Jaco na ’n neurochirurg verwys wat hidrokefalis gediagnoseer het, wat die opbou van oormatige vog op die brein is. Na behandeling asook lumbale punksies, het die chirurg In Februarie 2007 ’n “shunt” ingesit wat help met die dreinering van oormatige breinvloeistof. Vanaf daardie tyd was Jaco 3 keer opgeneem vir herstel van die “shunt” deurdat dit verstop geraak het, en die laaste keer in September 2014 is dit vervang aangesien Jaco ’n baie groot seun vir sy ouderdom is wat vining groei, en die oorspronklike een nie meer effektief was nie. ’n Maand gelede het Jaco begin kla van erge hoofpyne en dubbel visie. Mev. Burger het nie op die tydstip enige mediese fonds nie, en het Jaco kliniek toe gevat waar hy medikasie ontvang het, en toe het die suster gesê as daar nie verbetering is nie, moet verdere stappe geneem word as gevolg van sy geskiedenis. Jaco het op 6 Februarie die neurochirurg gaan sien. Hy het dadelik gesê dat daar ’n oormatige drukking op die brein is, en Jaco vir X-strale gestuur. Dit het gewys dat die pypie wel op sy plek is. Nou moet die chirurg so gou as moontlik ’n lumbale punksie doen om die presiese drukking op die brein te bepaal en dan 7 dae daarna moet ’n operasie gedoen word om die pypie te hersien of te vervang indien nodig. Mev. Burger wag vir die totale koste van die prosedures, maar volgens die neurochirurg gaan die kostes in die omgewing van R150 000 wees. Dit is geld wat Mev. Burger nie het nie, en weens die feit dat die neurochirurg Jaco van kleutertyd behandel, het Mev. Burger absolute vertroue in hom. Indien daar ’n fout met die operasie insluip, kan die gevolge fataal wees. Pediater - Dr C Diffenthal Bloem Medi-Clinic 051 4443794 Neurochirurg – Dr J Wilkinson Bloem Medi-Clinic 051 444 2000