Verantwoordelik stem luisteraars.

articleImage

Die 8e Mei kruip vinnig nader. 


Met die verkiesing skaars twee maande van nou stel politieke partye hul slagordes op vir die groot dag ten einde te verseker dat hulle ʼn beduidende deel van die kieserskoek bekom. Niks en niemand word gespaar nie.

So het die DA, die naas grootste politieke party in Suid Afrika, sy verkiesingsmanifes bekendgestel. Ander politieke partye volg hul voorbeeld met andere die VF wat, as ek dit reg het, vanaand sy beloftes plegtig sal voordra. Met verwysing na die VF is ek bekommerd dat “slaan terug” nie die beste verkiesing slagspreuk is wat gebruik kon word nie. Die bedoeling mag edel wees maar die onmiddellike verstaan daarvan lewer probleme.

Dit is so dat praat maklik is maar dat doen iets anders is.
Hoe sê die spreuk “talk is cheap, but money buys the whisky”.

Ek is nie seker of dit gepas is om in die uitgelese geselskap van ons lesers oor whisky te praat nie maar ek neem nie verantwoordelikheid vir die spreekwoord nie. Wat dit egter probeer oordra is dat beloftes maak die maklike deel is. Wanneer dit by die praktyk kom staan politieke partye oorwegend skuldig. Dis ook ʼn jammerte dat verkiesingsretoriek populisties van aard is. Daar word op die mislukkings en verleentheid van die ander partye gebou eerder as om ʼn eie vars bries te laat waai. Dit sal darem lekker wees as ʼn mens verkiesingsmanifeste ʼn skoon oudit kan gee wat dit betref.

So beloof die DA ʼn werk in elke huishouding in Suid Afrika, stel voor dat Eskom in twee verdeel moet word teenoor die ANC se driedeling terwyl sukkelende staatsinstellings geprivatiseer moet word. Die stryd teen korrupsie word verder gevoer, die polisiediens suiwer sy binnekant, werksgeleenthede word op gelyke grond aangebied en dienslewering verbeter. Een van die meer aantreklike beloftes van die DA sluit ononderbroke energie verskaffing in. Daar word ook ʼn huisvestigingstoelaag belowe om mense in staat te stel om ʼn eerste huis te bekostig.

Dis die “hoe” van hierdie beloftes en voornemens wat skipbreuk ly . Sê mnr Maimane soos ʼn waardige prediker “ Ons is hier want ons wil deel wees van die oplossing. Ons is hier omdat ons weet dit is die moeite werd om vir Suid Afrika te veg.

In alle billikheid is daar niks wat ʼn mens nog nie gehoor het nie.

Ek mis ʼn politieke groepering wat die kieserspubliek verras met innoverende denke en merkbare kreatiwiteit. `ʼn Politieke party wat die verbeelding gaande maak, wat baie huiswerk gedoen het en hul planne op die tafel sit om Suid Afrika te laat werk. Daarvoor sal ons oënskynlik nog ʼn bietjie moet wag.
Intussen stem ons vir die opposisie, nie uit oortuiging nie maar veel eerder om die ANC op sy tone te hou.

Van verkiesingsmanifes gepraat, sou ek en jy die geleentheid hê om Suid Afrika ʼn beter plek te maak en dit luidkeels van ʼn verhoog af te verkondig wat behels dit. Ek dink dat elke Suid Afrikaner, nog meer vanuit ʼn Christelike vertrekpunt moet nadink oor hoe hy of sy kan en wil bydrae om ons geknelde land op die pad van herstel te plaas. Blote realisme dui daarop dat ons by ʼn kruispad gekom het.

As skoolkinders mekaar doodmaak, skole die plek wat leiers gekweek word onveilig geword het en strukture met meganiese stutte in plek gehou word en minderjariges jongmense soos nou in Polokwane gebeur het ʼn onskuldige 27 jarige nie alleen doodmaak nie maar dit op sosiale media plaas het ons ʼn ernstige moraliteitsprobleem. Moraliteit in ʼn land is die somtotaal van moraliteit wat op grondvlak in elke huishouding aan die gebeur is.

Ons moet dalk vir ʼn oomblik die politieke partye gelyk gee dat hulle maar net kan wees wat hul kieseres individueel en gesamentlik is. Soos in Nehemia se tyd moet elkeen bou aan die muur, reg voor sy eie huis.

Ons het egte opstanding uit die geestelike slaap nodig waarin ons as land verkeer. Al die verbasing op die gesig van die eens dooie in pastoor Alph Lukau van die Alleluja bedienings gemeente oortuig ongelukkig nie. Skouspelagtig maar vals. Wat het van die krag van die Heilige Gees geword.


Gewapen en gereed. Ons stryd is immers nie teen vlees en bloed nie.

Verantwoordelik stem luisteraars.