Ek ken daardie stem

logo

Ons is vir ʼn paar dae “uitstedig”, ʼn metafoor vir met vakansie, maar jy wil nie hê ander mense moet jaloers word nie.

Jou beurt is jou beurt!!

Dis einde van die maand en my verpligtinge en krediteure het vrede met die feit dat ek nie beskikbaar is nie. Vir een of ander rede kan ek die geldjies wat nodig is om hulle stil te maak nie uit die rekening kry nie. Ek doen meeste van my “besigheid” aanlyn. Sjoe, nou klink dit darem gesofistikeerd, né. 

So ry ek van tak na tak opsoek na iemand wat my kan help. Telefoonoproepe het my nêrens gebring nie, so dis al uitweg.

Ten einde laaste en net voor toemaaktyd hardloop ek by ʼn laaste desperate poging in.

Die dame is vriendelik en behulpsaam maar kan nie verstaan wat die probleem veroorsaak nie. Ek ook nie.

Sy roep ʼn Andre nader om te sien of hy kan help. Hy is klaarblyklik ʼn senior bankier want hy weet net waar om die knoppies te druk en watter kodes om in te tik.

Op pad na die toonbank waar ek en die dame aan’t worstel is hoor ek hom sê “maar ek ken mos daardie stem, ds. Jannie Pelser van Kruiskyk”.

Onnodig om te sê dat die verbasing groot is maar die dankbaarheid oorvloediger. As ʼn mens eers ʼn naam beet het is daar amper verhouding.

“Ek ken mos daardie stem”, sê hy. 

Dit herinner my aan die Goeie Herder. Sy skape ken sy stem. Hulle loop nie agter ʼn vreemdeling aan nie. Hulle volg waar Hy hulle lei. In die woorde van Ps. 23 “na waters waar rus is”.

Goeie weivelde, tafels wat kreun onder sy goedheid en guns. 

Suzette se ʼn ma ken haar kind se stem. In ʼn plek wat wemel met kinders sal sy hoor as haar kind huil. Sy is fyn ingestel daarop.

So ken die Here ons stem. Tussen die miljoene stemme wat elke dag na sy genadetroon “opstyg” weet Hy as ons roep.

Tussen die veelheid van stemme wat elke dag na ons toe kom weet ons as Hy praat. Dit moet ook waar wees.

Stel jou daarop in om die stem van die Here te ken. (Joh.10)

Ps. Ek het toe darem reggekom.

Dankie Andre. 

 

Groete