Vriespunt

logo

Ek het heimlik gehoop dat die winter verby is, maar helaas. Snerpende koue is van Kaapse kant af op pad en sal ons in Gauteng, more bereik. Brrr.

Winter is nie ʼn baie goeie tyd vir my nie. Die grysheid bekruip my siel en maak my swartgallig. Elke jaar as winter nader kom begin ek bid dat die Here my sal bewaar van negatiwiteit en neerslagtigheid. Mens noem dit glo seisoenale depressie. Ek kies nie daarvoor nie maar dit het darem ʼn naam. Sommige mense sê hulle is glo winter mense maar ek verstaan daar niks van nie. Gee my die son, vroegdag oggende en laat aand bedompigheid. Dan is ek in my element.

Daar is egter mooi in alles, as ons dit net wil soek en raaksien.

Winter is naby tyd. Saans lepellê met jou geliefde terwyl albei ril van die koue. Gaandeweg word ʼn mens saam warm. Ek hou nie van elektrisiteit onder my nie so ʼn kombers wat met “krag” werk om jou warm te maak, is nie vir my nie. Die verwarmer raas en blaas maar moet een of ander tyd afgeskakel word anders raak ʼn mens nie aan die slaap nie.

Familie kry nuwe betekenis in die wintermaande. Mekaar koester rondom die etenstafel is ongekend lekker en ʼn voorreg. Dit geld ook vir ʼn mens se geestelike familie.

Winter is by uitstek dank tyd. Daar is honderde duisende mense wat nie die luuksheid van ʼn woning, genoeg komberse en warm klere, stomende kos en drankies kan geniet nie. Waarom die Here so goed is vir my kan ek nie kleinkry nie. Dit terwyl so baie mense die basiese ontbeer.
Daar kan net een rede wees en dit is dat ook ek iets van sy goedheid met ander kan gaan deel. Ek kan tog nie onder al die komberse slaap tegelykertyd nie. Die wat volgende winter nog in die kas opgevou bly lê, kan iemand anders se koue verdryf. Die stomende pot sop kan vir iemand by die robot vreugde bring. Die baadjie wat ek om sentimentele redes koester kan iemand se lewe red.

Winter is by uitstek weggee tyd.
Ek moet dit baie meer doen.


Groete
Jannie Pelser